Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 20 JANUARIE 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Die bulletin word deur ZS6JPL via Echolink herlei. ‘n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za,afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin vanoggend die bulletin met nuus van 'n stil sleutel.

Dit is met leedwese dat ons bekend maak dat die sleutel van Graham Griggs, ZS2ABK, op Donderdag 17 Januarie 2019 stil geword het ná 'n lang stryd met kanker. Graham was vir baie jare betrokke by die Maritieme Mobiele Netwerk totdat siekte 'n einde gemaak het aan sy deelname.

Ons betuig ons opregte meegevoel aan sy familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

HET JY IEMAND GENOMINEER VIR 'N SARL TOEKENNING OF TROFEE?

SUID-AFRIKA OM IARU-POSISIES TE ONDERSTEUN OP WRC-19 AGENDA ITEMS WAT AMATEUR RADIO BEÏNVLOED

En

SECUNDA RADIOKLUB - VELDSTASIE GELEENTHEID

Bly gerus vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.

HET JY IEMAND GENOMINEER VIR 'N SARL TOEKENNING OF TROFEE?

Die sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-toekennings en trofeë is middernag op Donderdag 31 Januarie. Jy word verwys na bladsye 14, 15 en 16 van die Desember Radio ZS asook die SARL-kommunikasie gedateer 31 Desember 2018 vir 'n lys van die SARL-toekennings en trofeë wat tydens die toekenningsdinee oorhandig sal word. Daar is meriete toekennings en daar is operasionele toekennings - wat het op 6, 4 en 2 meter sowel as 70 cm en hoër gedurende 2018 gebeur, wie was betrokke? Watter was die beste artikel in Radio ZS gedurende 2018?

Etienne Naude, ZS6EFN het aangedui dat hy nie verkiesbaar vir die Raad is nie. Daar is vyf vakatures op die Raad vir die nuwe jaar. Nominasies om hierdie vyf vakatures te vul, word uitgenooi. Is daar sake wat jy graag by die AJV wil bespreek? Nominasies vir SARL-toekennings en trofeë, nominasies vir die Raad en mosies vir die AJV moet teen middernag op Donderdag 31 Januarie 2019 by die SARL Sekretaris ingedien word deur die e-pos secretary@sarl.org.za te gebruik. Nominasie sjablone en 'n sjabloon vir mosies kan gevind word deur die skakel in die 2019 Dag van die Radio-item in die Slegs-Lede-afdeling te volg.

Doen dit nou en moenie wag tot 31 Januarie nie.

SUID-AFRIKA OM IARU-POSISIES TE ONDERSTEUN OP WRC-19 AGENDA ITEMS WAT AMATEUR RADIO BEÏNVLOED

Die twee-dag-industrie WRC-19 Voorbereidende vergadering wat verlede week gehou is, het aanbeveel dat Suid-Afrika die IARU-posisie ondersteun op agenda-items wat 'n invloed op Amateur Radio het. Die vergadering het die konsep ITU Konferensie Voorbereidende Vergaderingsverslag (CPM) oorweeg en die Suid-Afrikaanse posisie ontwikkel wat nou by die SAOG-vergadering bespreek sal word en daarna by die ATU-vergadering volgende maand. Die finale CPM-verslag sal later vanjaar bespreek word voor die CPM-vergadering wat in Oktober voor WRC gehou sal word. Die finale Suid-Afrikaanse posisie sal dan vir goedkeuring aan die kabinet voorgelê word. Dit sal die riglyne vorm wat die Suid-Afrikaanse afvaardiging in die WRC-besprekings sal gebruik.

Item 1.1 van die agenda handel oor 50 - 54 MHz. Die SARL-voorstel om die globale toekenning van 50 - 54 MHz te ondersteun, wat konsep CPM-opsie A is, is aanvaar. Vir Suid-Afrika beteken dit dat die huidige toekenning behoue bly. Daar is alle aanduidings dat hierdie agenda-item Afrika-wye ondersteuning sal kry.

Vir agenda 1.13 het die IARU voorgestel dat 47.0 tot 47.2 GHz as 'n primêre amateur toekenning gelaat word. Hierdie klein gedeelte van die 47 GHz is onaangeraak gelaat, alhoewel vrae gevra is watter studies die amateur radio-gemeenskap uitgevoer het en waarvoor die spektrum beplan word.

Die SARL het die besprekings oor agendapunte 1.15, 1.16 en 10 noukeurig gevolg. Twee agendapunte is die wat handel oor 2,3 en 5 GHz toekennings en die inbreuk op Wi-Fi-stelsels. Amateur radio het sekondêre toekennings in die twee bande.

Die SARL het deelgeneem aan besprekings oor die vereenvoudiging van die registrasie van satelliete met 'n operasionele lewe van 3 jaar en korter. Suid-Afrika het 'n belangrike rol gespeel in hierdie agendapunt en ondersteun die inisiatief. Die agendapunt om nuwe toekennings vir Universiteit CubeSats te vind, het ook aansienlike besprekings tot gevolg gehad. Alhoewel hierdie agenda-item nie deur baie lande ondersteun word nie, het die vergadering gevoel dat dit 'n belangrike voorstel is en ingestem het om dit op SAOG- en ATU-vlak te bevorder. Tans laat baie lande toe dat hierdie satelliete op amateur radiofrekwensies funksioneer en geen alternatiewe frekwensie toekennings vind nie. Die SARL en AMSAT SA is verteenwoordig deur Hans van die Groenendaal, ZS6AKV

REGISTREER NOU VIR 2019 AMSAT SA RUIMTE SIMPOSIUM

Bespreek nou vir die 2019 AMSATSA Ruimte Simposium. Dit sal gehou word by die Accolade Konferensiesentrum in Midrand, net langs die Ben Schoeman snelweg. Die tarief sal R400 per persoon wees vir AMSAT SA en SARL lede en R600 vir nie-lede. AMSATSA en SARL-lede sal egter slegs R350.00 betaal indien dit teen 28 Februarie 2019 bespreek en betaal word. Akkommodasie is ook by die hotel beskikbaar teen R855 plus BTW. Meer besonderhede is beskikbaar op www.amsatsa.org.za.

Jy luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.

SECUNDA RADIOKLUB - VELDSTASIE GELEENTHEID

Die Secunda Radioklub (ZS6SRC) sal vanaf 18 tot 27 Januarie 2019 by die Trichardtsfonteindam Seiljagklub, 'n paar kilometer vanaf Secunda in Mpumalanga (Ruit KG43OH) op die lug wees. 'n Multi-stasie wat op 80, 40, 20, 17, 15, 2 m en 70 cm aktief is, insluitend satelliet aktiwiteit, sal gedurende hierdie tydperk op die lug wees.

Gedurende die eerste week gaan die jongmense van die ZS6ZU Hammies ARK by die Secunda-span aansluit om die gesimuleerde DXpedition-omgewing van die veldstasie te bedryf en ervaar. Die Secunda Klub nooi belangstellende radio amateurs om by hulle aan te sluit by die bedryf van die stasie die gedurende hierdie tydperk.

Vanuit 'n akkommodasie-oogpunt is kampeer geriewe vir karavane en tente beskikbaar by die Dam met warm en koue water storte en toilette beskikbaar, kampeer plekke het 220 V-toevoer. Indien jy belangstel, kontak gerus Gert Botha, ZS6GC by 082 771 0663 of per e-pos aan gertb@cybersmart.co.za vir meer inligting rakende die geleentheid.

DIE AARDE SE VERANDERENDE MAGNETIESE POLE BEÏNVLOED JOU TELEFOON

Die aarde se magnetiese veld verander so vinnig dat navorsers gedwing is om by die Wêreldmagnetiese Model voor skedule op te dateer. Ontwikkel deur die Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie en die Britse Geologiese Organisasie, word die model wyd gebruik vir die presiese navigasie van toestelle wat wissel van kernduikbote tot die algemene slimfoon. Jou selfoon kan geraak word.

"Die WMM is die standaard magnetiese model wat gebruik word vir navigasie deur organisasies soos NAVO, die Ministerie van Verdediging en die Amerikaanse Departement van Verdediging en ook deur slimfoon bedryfstelsels soos Android en IOS," verduidelik Will Brown van die Geomagnetismespan van die Britse Geologiese Organisasie, wat die model in samewerking met NOAA van die VSA vervaardig. "As jy jou slimfoon se kaart program oopmaak, kan jy dalk sien hoe 'n pyltjie wys waar jy kyk en daar is iets behoorlik slim wat in die agtergrond gebeur," gaan hy voort. "Jou foon bevat 'n magnetometer wat die aarde se magnetiese veld meet. Om hierdie inligting te verstaan, gebruik Android en iOS-bedryfstelsels die WMM om die metings na die ware noorde te verbeter."

Normaalweg word die Wêreldmagnetiese Model elke 5 jaar bygewerk. "Sedert laat 2014 het die Aarde se kernveld in 'n onvoorspelde en huidig ‘n onvoorspelbare wyse verander (insluitende 'n skielike verandering in afwyking wat 'n 'geomagnetiese ruk' genoem word in 2014/2015)," sê Brown. "Die doel van die WMM is om wêreldwyd akkuraat te wees binne een graad van deklinasie, maar ons sal binne drie jaar die limiet oorskry." Daarom gee hulle vir die eerste keer 'n opdatering aan die WMM aanbring voor die gewone 5-jaar-punt in 2020.

LIDMAATSKAP AANSOEKE

Die SARL het 'n lidmaatskap aansoek van die Johannesburgse ARK, ZS6TJ, ontvang. Enige besware teen hierdie lidmaatskap aansoek moet die Liga-Sekretaris bereik voor die Woensdag na die bulletin. Stuur asseblief jou besware aan secretary@sarl.org.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan bly. Tans is daar geen sonvlekke sigbaar nie. Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van een vir die week gebruik. Amateurs kan moontlike openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

Ten slotte, 'n dagboek van sommige komende gebeure:

18 tot 27 Januarie – die Secunda ARK Veldstasie Geleentheid.
26 Januarie - die Somer QRP kompetisie.
31 Januarie - die sluitingsdatum vir die nominasies van die Raad, mosies vir die 2019 AJV en nominasies vir die SARL-toekennings en trofeë.
2 Februarie - die SARL BHF/UHF QSO Geselligheid.
3 Februarie - die AWA Gelykgolf Aktiwiteitsdag.
9 Februarie - die BHF/UHF werkswinkel by die NARS.
9 en 10 Februarie - die SARL Nasionale Velddag.
28 Februarie - einde van die vroeë besprekings vir die Ruimte Simposium en sluitingsdatum vir SARL Eregallery nominasies.

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Die sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-toekennings en trofeë is middernag op Donderdag 31 Januarie. Jy word verwys na bladsye 14, 15 en 16 van die Desember Radio ZS asook die SARL-kommunikasie gedateer 31 Desember 2018 vir 'n lys van die SARL-toekennings en trofeë wat tydens die toekenningsdinee uitgehandig sal word. Daar is meriete toekennings en daar is operasionele toekennings - wat het op 6, 4 en 2 meter sowel as 70 cm en hoër gedurende 2018 gebeur, wie was betrokke? Watter was die beste artikel in Radio ZS gedurende 2018?

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS, geredigeer deur Johan de Bruyn, ZS6JHB en gelees deur ...........................................................

Vanaf die Afrikaanse Nuusspan, beste wense vir die week wat voorlê. Totsiens.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003